deur Hennie (Dup) du Preez
Dis met aangename herinneringe wat ek terugdink aan die lewe van ‘n liewe vriend en ‘n man wat ‘n groot deel van my lewe uitgemaak het.
Ons het mekaar in ons skooljare op die tennisbaan leer ken. Hy was ‘n briljante speler, met berekende vaardighede en al die houe in die boek. Hy was die ou om te klop. Ek het dit eenkeer reggekry, máár, ek het geweet dat hy daardie dag fisies nie goed gevoel het nie. Niks het vir hom gewerk nie en alles het vir my gewerk. Soos ‘n ware sportman, wat hy altyd was, het hy nie verskoning gesoek nie en my laat goedvoel oor die oorwinning. Dit was die laaste keer wat ek hom gewen het…
Ons het mekaar weer op Stellenbosch in die laat 1970-jare herontmoet en ‘n woonstel vir twee jaar gedeel. Hy het in daardie stadium alreeds (na sy studies) gewerk en ek was nog besig met my studies. Saam het ons die kampuslewe geniet …en ‘n lewenslange vriendskap het begin.
Christo was ‘n saggeaarde en sagsprekende man met ‘n spitvondige sin vir humor. Ek onthou nog toe ons vir die eerste keer “Jaws” gaan kyk het. Toe die dame by die kaartjiehokkie vra waar ons wil sit, antwoord hy: “Twee kaartjies in die vlakkant asseblief…”
Daar was een eienskap van hom wat ek egter nooit kon definieer nie. Ofskoon Christo ‘n baie intelligente man was met ‘n skerp, ontledende waarnemingsgawe, het hy ‘n eg-eie, inherente ongeërgdheid in hom gehad, amper ‘n edele naïewiteit. Iets wat baie meisies tot rasendheid gedryf het - of selfs tot hom aangetrek het…
Hy het vir my altyd soos ‘n Franse kunstenaar gelyk. Hy was nogal gesteld op sy kleredrag. Nie hoog-mode nie, maar altyd stylvol. Meestal ‘n effe-kleurige uitrusting met ‘n baadjie όf ‘n oorhangende trui wat hy aan sy voorkant losserig geknoop het.
Hy het ‘n fyn aanvoeling (eintlik liefde) vir die kunste gehad – die woordkuns, beeldende kunste, maar veral musiek. Dit was soos ‘n persoonlike lewenslyn. Elke oggend, voor die dag se dinge begin het, was sy gunsteling musiek aan die gang terwyl die ketel gekook het . “Lekker dag, Dup, sien jou later”, het hy altyd gegroet net voor hy uitstap, oppad na sy voertuig (‘n Lancia Coupe).
Christo was verlief op die lewe, lief vir mense en al die vorme van meelewing en saamlewe. Iets wat hy baie geniet het, was om so een keer in twee weke, te gaan “serenade” by die meisie-koshuise. Met twee ligte kroegstoele wat oor ons nekke hang, twee kitare (ses-snaar en twaalf-snaar) en ‘n bekfluitjie het ons altyd die aand ingegaan. Gewoonlik ná 11nm as al die meisies in die koshuis moes wees. (Dit was so dáárdie jare en kampusbeheer was ook nie so streng nie). Hier kom die punt: Christo het nooit ‘n noot gesing of ‘n akkoord op ‘n kitaar gespeel nie! Sy genot was die saamgaan, die meelewing, die musiek en die pragtige meisies wat oor die balkonne of deur die vensters by elke koshuis geloer het.
Christo was baie ondernemend en verbeeldingryk. Sό het hy ‘n geleentheid gesien om vir ons uitvoer landgoedwyn (rooiwyn) te reël teen ‘n baie billikke prys. Tipies student: goedkoop rooiwyn, baie beter as “Tassies” - koop soveel jy kan! Met twaalf bokse uitvoer rooiwyn in ons rakke, kom Christo vorendag met ‘n baie genotvolle idee: ons gaan elke Woensdag twee meisies uit een van ons “serenade” koshuise uitnooi vir ‘n “Kaas en Wyn” op die balkon van ons woonstel… vriendinne wat lewensvriende geword het.
Christo het dikwels ‘n eenvoudige uittog as ‘n avontuur benader. In 1985 het hy van die Kaap af geryloop om vir my op my troue (Aliwal-Noord) as strooijonker by te staan. Hy sou dan saam met ons (ek en my bruid op ons wittebrood) reis tot in Beaufort-Wes en dan verder op sy avontuurlike tog via die tuinroete ryloop. Oppad Beaufort-Wes toe het my bruid (Heléne) op die agterste sitplek van ons voertuig gaan lȇ en rus, terwyl Christo voor, langs my, plek ingeneem het om my “geselskap” te hou terwyl ek bestuur. Die gesigsuitdrukkings van die mense, wat ons verbygesteek het, was aanvanklik baie vreemd… tot ons besef het dat die prentjie in ons voertuig mag dalk méér vreemd en ongewoon lyk (vir dáárdie jare!). Op die agterruit van die voertuig was groot geskryf: “Pas getroud!” Onnodig om te sȇ, Christo en ek het verleë gelag dat die trane rol en vir Heléne verplig om ten minste deur die dorpe regop te sit…
‘n Groot boom het in my lewenswoud geval. Daar is baie herinneringe. Ek sal dit in my geheue-album bȇre en vertroetel. ‘n Onsigbare naelstring sal ons altyd in hierdie lewe verbind. Ek groete jou, vir nou, my vriend… tot later…
Comments